Monday, 29 November 2010

Altona Strand

As mens skaam is om te vra sal jy nooit weet dat die beste strand 16km van jou voorstoep af is nie.
So gebeur dit na amper 'n jaar dat ek een oggend vir iemand vra waar 'n lekker swemstrand is. Groot is die skok toe ek hoor!



Voor die Europeers in Altona aangekom het was dit die tuiste van die Aboriginal groep, Woiwurrung. Die stam het uit sowat 40 Aborigines bestaan.

Altona is in 1842 deur die Europeers beset en die naam is gesteel vanaf die dorpie Altona in Hamburg.


Op 24 Junie 2010 trek Julia Gillard na Altona. Sy is September ingelyf as die 27ste Prime Minister van Australia.

Daar was 'n ope dag waar jy jou hond teen 'n fraksie van die prys kon registreer en 'n 'micro chip' insit.
Hierdie groep polisiemanne het daar opgetree. Die manne kan omtrent sing!! Hier is die kinders besig om 'n dansie uit te voer. Baie goeie ligte vermaak.

Wednesday, 10 November 2010

1 Jaar

Die visa is 1 jaar oud en daarmee saam is ons amper 'n jaar lank in die vreemde.
'n Vreemde wat al amper bekend begin word. Die mense bly maar vreemd, maar die natuur, Townships en diere is al 'n gerusstellende bekendheid.


Ons word begroet met 'How you're doing?' en gegroet met 'n 'see you later'.

Ons 'shout' mekaar vir etes in restaurante en aandete word 'tea' genoem.
Ons 'text' ipv 'sms' en 'get money out' ipv 'withdraw'.

Ons koop Pronutro en Aromat ten duurste by die Deli in die 'mall' vir daai tikkie SA troos, maar geniet die 'cereal and spices' van Aldi's net so baie.
Ons mis Jellytots en Bar One, maar eet ons oor 'n mik aan TimTam en liquorice.

Hierdie is nie 'n idilliese land sonder probleme nie. Gelukkig werk die regering, gereg en gemeenskap saam om die land en omstandighede te verander en verbeter.


Zuniga begin volgende jaar met Junior High en is erg gespanne oor die skielike groot word. Sy het ontpop in 'n dametjie wat net-net korter as ek is. Haar sin vir humor laat ons lekker lag in tye wanneer die verlange te veel raak en haar ongelooflike liefde vir haar gesin is duidelik sigbaar.

Kayleigh is 'n regte Ozzie wat klaar sukkel om in Afr te dink. Soms verstaan sy nie dadelik nie en moet ons in Eng herhaal. Dan word ons sommer gou gou reggehelp met die uitspraak of 'regte' woord. Sy beskou ons ook soms as 'very anoying'. Sy is mal daaroor om kos te maak.

Vandat ek so 2 maande terug begin werk het stap die tweetjies elke middag huis toe. Elke dag gaan hulle by ons 'local mall' in vir 'n koeldrank, lolly of sommer net die toilet.  Ek maak natuurlik van my kans gebruik om hulle poskantoor of News Agency toe te stuur.  Hulle verbaas my met hulle gemaklike omgang met die lewe en raak heeltemal te 'streetwise'.



Na 'n jaar se afsloof by die Jood lyk dinge positief dat Ellis by 'n Australiaanse maatskappy gaan begin werk rondom Desember. Ons kyk daarna om in 'n kusdorpie te bly wat wonderlik sal wees, want al wat ons vir die kinders hoef te koop is bikini's en kortbroeke!

Ek is elke dag dankbaar vir die geleentheid wat ons gekry het om ons vlerke te sprei. Die Here is goed vir ons en ek dank Hom elke dag. Ons is tans op 'n avontuur wat nog lank nie verby is nie....

Oh, my friend, it's not what they take away from you that counts.  It's what you do with what you have left.  ~Hubert Humphrey