Friday, 23 July 2010

'The Rude Awaikening'

Die oggend toe ek so goed beduiweld opstaan het ek gedink alles gaan verkeerd loop, maar in plaas daarvan gaan my ogies toe mos mooi oop. Alle illusies is weg - die vakansie is verby.
Die lewe in SA en die lewe in Oz is al so inmekaar gevloei en dis moeilik om te onthou hoe was dinge in SA.   Motors en hulle nommerplate lyk nie meer vreemd nie. Die plattlandse gevoel, vryheid en gevoel van veiligheid is nie meer snaaks nie. Dis selfs nie eens meer 'n ervaring om self te gaan petrol ingooi of bande pomp nie. Produkte in die supermarkte en die supermarkte self is nou al so bekend ek wonder soms hoe ruik Handy Andy nou weer en hoe lyk Dove shampoo in SA bottels nou weer? Is daar Dove shampoo in SA? Wat is daai groen seep waarmee ek altyd skottelgoed gewas het se naam nou weer? Dis wonderlik om te weet Coles is to middernag oop ingeval jou dogtertjie 11uur die nag uit haar slaap wakker skrik omdat sy onthou van iets wat more MOET skooltoe.

Ja SA en OZ is lieflik inmekaar gevleg.

Ek scan vinnig op die internet die Beeld se opskrifte deur - Nog 'n boer op sy plaas vermoor - nog 'n sportheld verneuk sy vrou. Ag nee magtig, dis 'depressing' - Slaan gou oor na Oz se Herald Sun - another Indian student has been killed - another Footy Hero cheated on his wife.

Ons is al deur 3 verjaarsdae - Kayleigh, Zuniga en die Queen.
Ons al vier het al haarsnye gekry en was in totaal al 4 keer vir een of ander mediese geval by die dokter. Hare is al gekleur, skool uitstappies bygewoon, skool rapporte ontvang en 1 keer getrek. Deur 'n somer en halfpad deur 'n winter. (Ek sê halfpad want die winter hou aan tot Oktober)

Ons mis ons familie en vriende, ek smag na 'n tuisnywerheid rolkoek, die kinders soek verbrande Spur burgers en Ellis bid vir 2 pare pikswart hande wat hom by die werk kan help bokse optel.

Ja, die vakansie is verby en Oz is nou ons tuiste.
Hier is so paar interressante feite oor Oz wat ek al raak gelees het:
  • In 1967 het hulle 'n 'prime minister' verloor. Harold Holt het hier in Victoria in die see gaan swem en is nooit weer gesien nie. Niemand weet tot vandag toe wat van hom geword het nie.
  • Oz is die wêreld se 6de grootste land
  • Dit is die grootste eiland
  • Dis die enigste eiland wat 'n kontinent is
  • Dis die enigste kontinent wat ook 'n land is
  • Dis die enigste nasie wat as 'n tronk begin het
  • Dis die tuiste van die grootste lewende ding, nl 'The Great Barrier Reef'
  • Dit het meer goed wat jou kan doodmaak as enige ander plek in die wêreld
  • Van die wêreld se 10 mees gifstigste slange kom almal in Australia voor
  • 5 van sy kreature - 'funnel-web spider, box jellyfish, blue-ringed octopus, paralysis tick and stonefish' - is van die mees dodelikste van hulle soort in die wêreld
  • Hierdie is 'n land waar die seeskulpe jou nie net sal steek nie, maar jou selfs sal aanval!
  • As jy nie deur een of ander ding doodgebyt of gesteek word nie, kan jy opgekou word deur haaie of krokodille of hulpeloos die see ingetrek word deur 'n sterk stroom. Of dalk in die woestyn 'n ongelukkige dood sterf in die bakkende 'outback'
  • In 1993 het 'n Japanese kultus groep, Aum Shinrikyo 'n atoombom getoets wat 11:03pm afgeskiet is in die Great Victoria Desert van Wes Australia. Dit was 170 x sterker as die sterkste myn ontploffings in Wes Australia en baie mense wat daai tyd van die nag buite was het die lig gesien, maar dit het die owerheid 4jaar gevat om die plek op te spoor waar die toets gedoen is. LW, die bom sou Tokyo kon vernietig. Die  Great Victorian woestyn alleen is 348,750 km2 groot!
Voorwaar 'n interressante land!

No comments: