Tuesday, 15 December 2009

1ste week al verby

Kan jy dit glo? Die eerste week 'Down Under' is verby en ek kan eerlik se ek het die afgelope week al paar keer 'down under' gevoel. Maak nie saak hoe voorbereid jy op alles is nie, jy kan nooit genoeg voorbereid wees nie.

Hierdie mense ervaar alles baie intens. Hulle is baie vriendelik ook. Ek wag nog om 'n mislike Ozzie te ontmoet. Nou die dag was ek en kids by die Cinema om pryse te kry toe 2 vrouens ons stormloop. Ek wou eers omdraai en weghardloop met 'n kind onder elke arm, maar toe is hulle al op ons. Hulle het toe al die tyd 1 ekstra gratis fliek kaartjie vir 'A Christmas Story' wat hulle vir ons wou gee! Ai, ek het nog baie om te leer...

Wat is anders hier? Amper alles!
In die weeklikse junkmail kom jy af op afslag koepons. En die mense weet van afslag gee! 50% op etes by Hungry Jacks bv. Daar is ook nie 'n winkel wat NIE afslag het nie en dit begin by 40% - 75%. Kos, klere, tasse, skoene, name it! Ons was gister in 'n skoenwinkel waar jy twee pare Scetchers vir $10 kan koop.

Ons wedervaring in Woolworths (gelykstaande aan Pick&Pay) was ook 'n ervaring en 'n half. Ek vra met die intrapslag sommer vir vars Rosemary en Greenpepper. "Oh, is that a South African accent I hear?" vra die man. "Yes, is it that obvious"? Hulle hou blykbaar van ons aksent. Vir my klink dit egter baie huiwerig en plat.  Anyway, met Rosemary kon hy my help, maar wat is greenpepper? Wel, na lang verduidelikings sien ek toe die groentetjie vir my loer tussen sy rooi en geel broers. Die naam? Capsicum! Ek het dit maar neergeskryf vir my vlg shopping spree, want onthou gaan ek nie maklik nie. 'n Yellow pepper is 'n Amigo. 'n Duvet is 'n Doona en 'n Duvet cover is 'n Quilt. 'n Continental kussing is 'n European Cussion. Ek meen regtig. Waarom is die mense so moeilik!
Verder het ons nie regtig gesukkel nie. Jy kan kies tussen 6 verskillende tipes patats, ek weet nie hoeveel tipes aartappals nie en sweets galore!  Ek het selfs sonder probleme rooibostee gekry en dit was selfs goedkoper as gewone tee. Ek weet nie waarom Suid Afrikaners kla hulle moet by die SA winkels gaan koop nie, maar aan die ander kant, hier is elke staat soos 'n land van sy eie. Dalk kom rooibostee net in Victoria voor.  (Die TV stasies is ook staat gebonde en ons kry slegs Victoria nuus, maar met hooftrekke van wat in die ander state aangaan). Bruinsuiker staan bekend as Raw sugar.

Na ons uiteindelik alles gekry het het Ellis ons lesse gegee in die self service till. Die kids het dit geniet, maar ek was redelik paniekbevange.  Jy scan 'n item, dan se die rekenaar wat dit is en vra jy moet dit in die sak sit. Dan kyk hy of die regte item in die sak is. As jy dalk die item uithaal en 'n ander een insit tel hy dit dadelik op en vra jy moet die regte item insit. Skielik se die till "Unidentified subject in bag, please check your bag" Die item? Ons oudste dogter wat op die lever waaraan die sak hang le en rus! Wanneer jy klaar is met al die items, gee hy jou 'n totaal, jy gooi jou geld in, kry kleingeld en stap uit. Niemand check jou op nie?

Van Self service gepraat. Hier gooi jy mos self petrol in. Ek het besluit ek soek nie 'n kar nie. Alhoewel ek gister aand sien dat Unledded petrol besig is om vervang te word met gas! As jy nou 'n 2de handse motor by een of ander dealer koop skakel hulle op hulle onkoste vir jou die kar om na gas.  Agv waterbeperkings mag jy nie in jou oprit met 'n tuinslang staan en karwas nie. Jy moet jou kar na 'n karwas vat. Ek is nie seker of jy hiervoor betaal nie, maar jy doen dit self! Ek sal bietjie foto's neem as Ellis die 1ste karwas aanpak.
Victoria is in 'n fase 3A waterbeperking. Gelyke straatnommers mag net tussen 6 en 8 op 'n Sondag en Woensdag oggend met 'n tuinslang of drupbesproeiing natmaak. Ongelyke nommers het ander dae. 1 uit 3 sportvelde mag per week natgooi.

Hier is ook 'n baie lekker winkel, nl die Reject Shop. Hulle verkoop alles waaraan jy kan dink vir vreeslik goedkoop. Dit is produkte waarvan die verpakking beskadig is of die kleur van die verpakking is dalk nie reg nie.

My 1ste ervaring met Starbucks het ook nie goed afgegaan nie. Ek en kids besluit so ewe om dit so maklik as moontlik te maak en cuppacino met room te bestel, want die hemel weet, ek weet nie wat is skinny white en al die terme wat hulle noem nie...Kry toe die cuppacino's met cream, maar geen room in sig. Na lang verduidelikings en nadat daar 3 ander mense probeer uitpluis wat dit is wat ons nou eintlik soek vind ek uit as jy vra vir cuppacino met cream, gooi hulle vloeibare room in. Jy moet vra vir whipped cream.

Verder was die week sonder ernstige voorvalle behalwe die sotlike goed wat ons aangevang het agv moegheid wat voortspruit uit Jetlag.

"Week one - concured"

No comments: