Friday, 11 December 2009

'n Volksvreemde land

Ok, kom ons begin by die begin.

Ek hoop ek onthou alles.Ons is so 11uur Maandag oggend lughawe toe. Daar gekom het ons ingeboek en was baie bly toe ons uitvind ons vlieg Qantas en nie SAL nie! Ons al 4 het ook darem langs mekaar gesit. Die oomblik toe die wielietjies die landingstrook verlaat het ek en Zuniga om een of ander rede trane begin stort. Die vlug was sonder voorval. Zuniga se screen het net nie lekker gewerk nie, maar sy het darem 'n fliek en paar Hannah Montannah episodes deurgedraf. Ons het probeer slaap, maar die enigste een wat dit reggekry het was natuurlik Kayleigh. Die vlug was baie stamperig en hopperig en ek het paar keer beangs na my armlening gegryp. Met die landing het ek gedink, ok na 11 uur in die lug sterf ons op die landingsstrook.

15:00 Ozzie tyd is ons op Sydney lughawe en klaar baie moeg. Die oomblik toe ons uit die vliegtuig is klou die klere al ongemaklik aan ons lywe vas. Ons is deur Doeane sonder voorval - behalwe dat dit regtig baie vreemd was om geen swart persoon te sien nie. Self die cleaner is 'n jong blanke mannetjie.

Nadat die Doeane beampte ons mooi uitgekyk het is ons deur een of ander hek. Daar se 'n Ozzie outjie toe vir Ellis 'take off your pants for inspection', maar Ellis verseker my toe hy het eintlik gese 'Through gate two for inspection'. By inspection vra hulle toe waar is ons tasse? Nee, se Ellis (hy is die enigste een wat Australiaans praat), Qantas vat dit sommer vir ons Melbourne toe. 'No Sir' se mr blou handskoentjies en terug is ons verby Ozzie snaakspraat om ons tasse te gaan soek. Dit was 'n lang en tydrowende ekspedisie want sien, daar was mos 9 tasse ingeboek...Eers kry ek amper hartaanval toe ons by die band kom wat die tasse veroer, want daar staan 2 onbemande pakkies in die middel van die vloer. Ek wou net gil 'Bomb' toe iemand dit optel en uitstap.
Terug, verby Ozzie snaakspraat is ons toe weer na die mannetjies met die blou handskoentjies wat 'inspect'. Ek se net vir Ellis, ontspan jou boudjies, moenie knyp nie, dan is dit vinnig verby. Die ou met die handskoene vra waarom ons niks 'declare' nie. Het ons dan niks in Afrika gekoop nie? Nee se Ellis, ons is van Afrika, sien jy die 9 tasse? Ons trek Oz toe. 'Well, are these children edible?' Ek het so groot geskrik en lieg to maar en se, 'No sir', en daar laat hulle ons deustap sonder om ons bagasie of persoon te deursoek.
By 'domestic' gekom vra die ou of ons dalk halfuur vroeer wil vlieg, want daar is nog plek. Half 7 Dinsdag aand kom ons by Tullemarine Lughawe in Melbourne aan. Doodmoeg en papnat gesweet.

Kry weer 9 tassies, kry 4 handtassies bymekaar, die 2 Build-a-bears, 2 kindertjies, al die goed wat ons met ons laaste rande by 'duty free' gekoop het en daar stap ons buitentoe om vir ons 'lift' te wag. Selfs ek wat nooit koudkry nie het my baadjie dadelik aangepluk. Die weer was skielik ysig en winderig! Kwart voor agt toe stop Jacob voor ons.
Ek kon nie glo dit was so laat nie, want buite het dit gelyk soos 5uur die middag!
Jacob praat, praat, praat (my oë natuurlik op skrefies getrek soos ek probeer verstaan wat hy alles probeer sê)  en stop toe by Hungry Jacks of iets vir burgers. Dit lyk kompleet soos 'n 'diner' uit 'n 60's fliek. Ons sit toe af huistoe. Wat 'n lieflike verassing! Die oomblik toe ons by Caroline Springs inry voel dit of ons in 'n sekuriteits kompleks inry. Dis so mooi, maar geen enkele palesade of muur om die estate, geen elektriese heinings, niks. Een ding wat ek eerlik kan se my vreeslik teleurstel is die tuine. Die huise is prentjie mooi, maar dan staan die bossies enkel hoogte. Daar is wel mooi tuine, maar meestal lyk dit of die huis al maande lank leeg staan.

Ons huis...wel, dis groot. En ek sal dit moet skoonmaak. Nege uur is ons gou Coles toe om ketel, goed vir koffie en ontbyt te koop. 11uur is ons terug by die huis - Coles maak eers 12uur toe. By die huis gekom het Zuniga op die stoel aan die slaap geraak. Kayleigh het na 12 by haar sussie op die bed gaan lê, maar kon nie slaap nie. Ek en Ellis het ook gaan slaap, maar ek het halfuur later opgestaan. Helder wakker. Begin toe maar wasgoed was. 2uur weer in die bed geklim en rondgerol.

8uur opgestaan en koffie gedrink. Z en K het moeilik opgestaan, maar ons het baie gehad om te doen aangesien Ellis die dag afgehad het en ons alles moes afhandel waarvoor ons 'n motor nodig gehad het. Ons is eerstens na die kids se skool om in te skryf. Hulle sê toe voorwaardelik ja, maar gee 2 stelle vorms wat ons moes voltooi en die vlg dag weer moet ingee. Vandaar het ons gaan skoolklere koop. Wat 'n duur affere, maar gelukkig is die skool verniet, so ons betaal met 'n smile. Toe is ons na Ellis se kantoor om te kyk hoe dit lyk en na een van die takke om 'n tv, ens te kry. Wat toe nerens te vinde is nie. Vandaar Woolworths toe om strykyster en kos vir so 2 aande te koop. Ons is so 5 uur by die huis gewees en ek begin met kos.
7 uur se Ellis ons moet die parkie gaan soek. Het lekker stappie gevat en my boeglam geskrik toe ek merk dis al half 9. Ek kon dit nie glo nie, want dit het pas begin skemer raak!
Wel, weereens het Zuniga vroeg gaan slaap en ek en Kayleigh het maar nog dingetjies gedoen om te probeer moeg raak.
Snaaks hoe die kinders omgeruil het. Kayleigh het altyd 8uur omgekap en Zuniga eers lank na middernag as jy haar los.

Donderdag oggend het ek en Ellis 7uur opgestaan en saam gesit en tee drink. Hy het gaan stort en ek het vir hom lunch ingesit en muesli en yogurt gemaak. Terwyl hy eet het ek vir ons 'n dagstukkie gelees en hy is af werk toe. Kids het nog geslaap en ek 'slip' toe gou uit skool toe met die vorms, paspoorte, visa, immuniseringskaarte, rapporte en oorplasings sertifikate - en my beursie ingeval hulle van plan verander en vra ek moet maar betaal - gelukkig toe nie. O ja, die vakke is baie dieselfde as in SA, behalwe hulle het Technology, asook Designing. Albei het vlg jaar ook Spaans en Indonesian as vakke. Hulle is meer opgewonde daaroor as oor die Engels! Ek is baie bly, want einde Year 12 is hulle 4 tale magtig.

Terug by die huis het ek begin springkleen. Ja, julle het reg gelees. Ek het die hele binnekant van die huis behalwe die dak en vensters gewas, vloere, deure, kosyne, toilette, storte, bad, ALLES.
Ek het vandag ook op my 1ste spinnekop afgekom. 'n Swarte met 'n rooi streep oor die rug. Ek het maar uit haar pad gebly, aangesien ek weet enige swart spinnekop met enige iets rooi op is baie gevaarlik - dit was buite. Maar toe ek die 2de een in die huis kry (gelukkig net plein swart), toe splash ons hom! Ellis was toe al tuis, sien. Die kids het half 1 die middag eers wakker geword.
Ons was vanaand half 8 by ons 'community centre' vir 'n verwelkoming in die buurt. Daar kry ons 'n piekniekstel in 'n rugsak persent gekry en 'n inligtingspak met afslagbewyse, ens. Caroline Springs is aangewys as die 'best Community for 2009'! Dis pragtig hier met baie mere en 'n park waar Kangaroo's vrylik rondhardoop/spring. Dis eintlik 'n bewaar area en omdat hulle bang is jy trap hulle gras plat het hulle 'n staal wandelpad van die een punt na die ander oor die gras opgerig. Dit is ook 'n Aborigini jagveld gewees.

Nou ja, dis al klaar Vrydag oggend kwart voor 2 en Kayleigh het nou net gesê sy gaan maar lê. Ek moet seker ook maar gaan slaap. Ek dink ek gaan nie more uit die bed kom nie. Kan voel die spiere is styf. Ek moes die huis maar in vertrek vir vertrek gevat het!
Nou kan ek ten minste more rus en Biblioteek toe gaan. O ja, die Bib lidmaatskap is verniet en dit het 'n koffiekroeg in. Daar is ook rekenaars met internet wat gratis aan die lede van die 'community' beskikbaar is.Vanaand by die verwelkoming se die vrou nogals ons moet die polisie bel as iemand met hulle Ute - spreek uit hute en afgekort vir utility vehicle op jou grasperk spin of in die nag in jou straat ry. Die polisie beskou dit as 'n noodgeval en kom dadelik uit.

Ek moet se dat alles hier vreemd is. Die land lyk anders as SA, die mense is anders en praat snaaks. Die produkte wat jy koop is anders. Daar is 3 asblikke, elk met sy eie kleur deksel en elk word op 'n ander dag leeggemaak. Hulle is ongelooflik streng met alles. Ek is so bang ek doen iets verkeerd en is in die moeilikheid dat ek my maar in die huis toesluit en nêrens heen wil gaan sonder Ellis nie, maar ek weet dit sal verander en na so maand of wat is ek weer katjie van die baan.

No comments: