Sunday, 5 July 2009

Oz en die visa

So wat is die agtergrond en waar trek ons nou?
Wel, 1 April 2009, begin Ellis in Melbourne Victoria te werk.

Hy gaan oor en ek en kids bly agter is SA terwyl ons wag dat die Visa gefinaliseer word. Hier begin die sports toe. Ons was veronderstel om so twee weke na Ellis te vlieg, maar toe kom die verrassing. Hulle soek police clearances! Myne was easy stuff, gaan na Brooklyn polisiestasie vir vingerafdrukke, dan na PTA middestad waar die aansoek ingegee word. Ellis s'n, nou ja! Hy is na 'n polisiestasie op 'n plattelandse dorpie in Victoria vir die vingerafdrukke. Die plek se naam is Rosendal, en daar woon 1 200 mense en die polisie stasie sluit 6uur die aand. Daar is slegs 2 mense wat daar werk en die weet nie lekker watse vorms om te voltooi nie, aangesien hulle dit nog nooit gedoen het nie, sien.

Toe die mannetjie uiteindelik die regte vorm uit die argiewe pluk en die vingerafdrukke doen, neem hy sommer ook afdrukke van die kante van Ellis se hande (vir ingeval hy 'n peeping tom is en bakkie teen die venster met sy hande maak!) Die dokument is toe na my gecourier om hierdie kant in te gee. Toe kom die slegte nuus! Die kriminele afdeling in SA is 28dae agter met police clearances! Wel, na baie gebede en baie gesmeek na Bo kry ons iemand in die hande wat ons vinniger kan help (en hy soek nie eens 'n 'bribe' nie). Ellis se vingerafdrukke kom toe 4dae later in SA aan en ek sit weer af na Pta. Die ou wat ons help vat weer my vingerafdrukke en 5dae later sit ek met die police clearances in die hand. Maak afskrifte, waarmerk en courier die goed weer af na Australia. 3 Dae later bereik dit die bestemming en ons 'waiting game' gaan aan.

Intussen besluit ek om die kids in die skool in te skryf aangesien hulle toe reeds amper 2 maande skoolloos, rigtingloos en dissiplineloos is en op mekaar se senuwees begin werk. Of is dit nou ek wat op hulle senuwees begin werk? Hulle was eers nie beïndruk nie. Veral die arme Zuniga. Stap in die middel van die kwartaal in, die 1ste dag van die toetsreeks! 2 Dae na die toetsreeks begin die eksamen! Arme ding het dit darem gemaak en albei kids is hulle kwartale deur.

Al klaar kan ek nie die fynere detail onthou nie, maar op 'n dag laat weet Ellis dat hy goedgekeur is, maar nie die mpy nie omdat daar nie genoeg opleiding aan Ozzies gegee is nie. Die mpy wil Ellis egter nie verloor nie, skerp hulle opleiding op, registreer die Ozzies wat daar werk vir opleiding dat dit klap en gee die aansoeke weer in. Probleem - Zuniga word oor 'n week 11 jaar oud en moet nou ook gaan vir X-strale. Ellis besluit hy kom huistoe vir haar verjaarsdag en paar dae later doen ons die mediese. Alles is afgestuur na Oz en raai wat? Nou hou ons nou al 3 weke lekker vakansie!

No comments: